Thursday, October 1, 2009

niks nuus gedurende september nie

En dis Oktober...... ek dink nie meer ek gaan die Comrades doen nie - oefen is alles behalwe lekker en ek kom glad nie daarby uit nie.
Dalk sal ek later van plan verander, maar tot dan.... geen nuus beteken, geen stap/draf nie.

Ek het darem die naweek wat verby is gaan hike - so 20 km in die berge... sonder rugsak omdat ek slimmer as die ander hikers is :-)

Friday, August 7, 2009

en ek kry versterkings in

Ag nee wat, so kan mens nie aangaan nie. Nou het ek die sus en swaer omgepraat dat ons in die middae na werk gaan stap - ons het verlede jaar, toe raak dit later te warm... maar sweet is mos ook nodig :-)
So, vanmiddag begin ons weer - ons het so 3.8 km roete, dus sal ons daarmee begin. Dis darem baie beter as mens geselskap het... al drentel ons soms en kyk tuine, ten minste beweeg ons bene!!

Dankie tog.....

Thursday, July 30, 2009

ag helaas :-(

en toe was daar weer koue en daarna 1 dag se stap en toe 'n werkswinkel en toe weer koue...... maar eendag is eendag, dan sal daar weer 'n roetine wees - hoop ek!

Monday, July 20, 2009

weer aan die gang

Het vandag die slegte-geit gelos en die pad gevat - het darem 30 min gestap, hoewel ek verder sou kon stap as die "polo-nek" truitjie nie so warm geraak het nie!! Ja, in die winter kan dit hier ook maar "warm" word. Sal vanaand bietjie my klerekas gaan beloer om "beter" klere uit te kies... net jammer in die oggend het mens die warmer klere nodig :-)

Thursday, July 16, 2009

totale terugval :-(

Ai - dis asof ek nog nie eens begin het nie. Hierdie week, na die onsuksesvolle begin, het ek nog nie weer gestap nie - of dis te koud, of ek loop saam die familie by die kunstefees... met soveel mense wat hier rond drentel, is dit ook glad nie lekker om al om die kampus te stap terwyl alles in die middel van die kampus gebeur nie :-(
Sal maar volgende week, as alles terug is na normaal, weer met die roetine begin. Gelukkig hoef ek nie weer by die 15 min te begin nie - die 30-35 minute is nogal nie so moeilik nie - is seker veronderstel om dit nou op te stoot na 40-45 min. Maar dis solank as my etenstyd is, sal daarna iets ander moet uitwerk!

Monday, July 13, 2009

Ai, die hindernisse....

Verlede week het ek goed afgesluit met nog 'n 30 min stap, maar die naweek was nou 'n regte "LUI" naweek. Vanmiddag het ek hier met 'n vaart weggespring - die weer lyk nog goed, res van die week klink of dit dalkies weer sleg kan wees - maar toe loop ek 'n skoolvriendin raak.... nodeloos om te sĂȘ dat ek toe die res van my halfuur gestaan en kuier het :-)) Maar dit was lekker. Die Volksblad kunstefees is besig om sy vere reg te skud en oral slaan mense stalletjies op - ek sal dus my stappies in die middae deur die stalletjies doen - ek weet net nie hoe "vinnig" dit dan sal gaan nie. Gelukkig is die goed te duur en my geld maar min, dus is dit redelik veilig!

Maar solank ons dit geniet.... sal ons (dis nou ek, myself en ekke) stap!

Thursday, July 9, 2009

eerste "tydtoetsie"

Gister het ek 'n roete van 2 km met my kar afgemeet en dit toe vandag gestap - met die stophorlosie :-) 18 minute en 18 sekondes. Was nou natuurlik nie teen wedloop-spoed nie, maar dit is 9 minute per km en beslis nie 'n gemaklike uur en half vir 'n 10 km wedloop nie. Gelukkig is die eerste 10 km eers 29 Augustus... teen daardie tyd behoort ek seker al so hier en daar 'n paar tree te kan draf, want my mikpunt is dat ek die 10 km in 1:20 sal doen. My vinnigste nog was net so onder 1:30..... maar toe het ek nie gedraf ook nie - as ek dus op elke km 'n minuut kan score deur te draf... walla, dan sal ek dit maak.

Het darem op die ou end my 30 minute vir die dag gestap, weet net nie hoe ver die laaste end was nie - was nie lus om om te draai en dieselfde 2 km weer te stap nie :-))