Thursday, October 1, 2009

niks nuus gedurende september nie

En dis Oktober...... ek dink nie meer ek gaan die Comrades doen nie - oefen is alles behalwe lekker en ek kom glad nie daarby uit nie.
Dalk sal ek later van plan verander, maar tot dan.... geen nuus beteken, geen stap/draf nie.

Ek het darem die naweek wat verby is gaan hike - so 20 km in die berge... sonder rugsak omdat ek slimmer as die ander hikers is :-)

Friday, August 7, 2009

en ek kry versterkings in

Ag nee wat, so kan mens nie aangaan nie. Nou het ek die sus en swaer omgepraat dat ons in die middae na werk gaan stap - ons het verlede jaar, toe raak dit later te warm... maar sweet is mos ook nodig :-)
So, vanmiddag begin ons weer - ons het so 3.8 km roete, dus sal ons daarmee begin. Dis darem baie beter as mens geselskap het... al drentel ons soms en kyk tuine, ten minste beweeg ons bene!!

Dankie tog.....

Thursday, July 30, 2009

ag helaas :-(

en toe was daar weer koue en daarna 1 dag se stap en toe 'n werkswinkel en toe weer koue...... maar eendag is eendag, dan sal daar weer 'n roetine wees - hoop ek!

Monday, July 20, 2009

weer aan die gang

Het vandag die slegte-geit gelos en die pad gevat - het darem 30 min gestap, hoewel ek verder sou kon stap as die "polo-nek" truitjie nie so warm geraak het nie!! Ja, in die winter kan dit hier ook maar "warm" word. Sal vanaand bietjie my klerekas gaan beloer om "beter" klere uit te kies... net jammer in die oggend het mens die warmer klere nodig :-)

Thursday, July 16, 2009

totale terugval :-(

Ai - dis asof ek nog nie eens begin het nie. Hierdie week, na die onsuksesvolle begin, het ek nog nie weer gestap nie - of dis te koud, of ek loop saam die familie by die kunstefees... met soveel mense wat hier rond drentel, is dit ook glad nie lekker om al om die kampus te stap terwyl alles in die middel van die kampus gebeur nie :-(
Sal maar volgende week, as alles terug is na normaal, weer met die roetine begin. Gelukkig hoef ek nie weer by die 15 min te begin nie - die 30-35 minute is nogal nie so moeilik nie - is seker veronderstel om dit nou op te stoot na 40-45 min. Maar dis solank as my etenstyd is, sal daarna iets ander moet uitwerk!

Monday, July 13, 2009

Ai, die hindernisse....

Verlede week het ek goed afgesluit met nog 'n 30 min stap, maar die naweek was nou 'n regte "LUI" naweek. Vanmiddag het ek hier met 'n vaart weggespring - die weer lyk nog goed, res van die week klink of dit dalkies weer sleg kan wees - maar toe loop ek 'n skoolvriendin raak.... nodeloos om te sê dat ek toe die res van my halfuur gestaan en kuier het :-)) Maar dit was lekker. Die Volksblad kunstefees is besig om sy vere reg te skud en oral slaan mense stalletjies op - ek sal dus my stappies in die middae deur die stalletjies doen - ek weet net nie hoe "vinnig" dit dan sal gaan nie. Gelukkig is die goed te duur en my geld maar min, dus is dit redelik veilig!

Maar solank ons dit geniet.... sal ons (dis nou ek, myself en ekke) stap!

Thursday, July 9, 2009

eerste "tydtoetsie"

Gister het ek 'n roete van 2 km met my kar afgemeet en dit toe vandag gestap - met die stophorlosie :-) 18 minute en 18 sekondes. Was nou natuurlik nie teen wedloop-spoed nie, maar dit is 9 minute per km en beslis nie 'n gemaklike uur en half vir 'n 10 km wedloop nie. Gelukkig is die eerste 10 km eers 29 Augustus... teen daardie tyd behoort ek seker al so hier en daar 'n paar tree te kan draf, want my mikpunt is dat ek die 10 km in 1:20 sal doen. My vinnigste nog was net so onder 1:30..... maar toe het ek nie gedraf ook nie - as ek dus op elke km 'n minuut kan score deur te draf... walla, dan sal ek dit maak.

Het darem op die ou end my 30 minute vir die dag gestap, weet net nie hoe ver die laaste end was nie - was nie lus om om te draai en dieselfde 2 km weer te stap nie :-))

Friday, July 3, 2009

jippie, dis Vrydag

En ek het vandag 32 minute gestap - nuwe roete na die sportgronde gevolg - lekker tussen die bome en in die veld (?). Snaaks dat 'n paar bome en sportvelde die lawaai van die verkeer kan wegvat - sal dus van nou af 'n regeelde roete wees om te volg - hoop nie dis te gevaarlik nie, daar is nie juis mense nie, maar wat, daar is darem ook nie karre nie :-))

My boeta verjaar vandag - die een wat die comrades al gedoen het en my motivering is. Tweede verjaarsdag uit SA en in NZ.... dalk moet ek volgende jaar vir sy verjaarsdag daar 'n draai gaan maak! $$

Thursday, July 2, 2009

drie keer die week

Vandag was darem al die derde keer die week wat ek gestap het. Gister moes ek bank toe om 'n probleempie op te los, maar vanmiddag het ek 'n volle 30 minute gestap. Moet sê, na 20 minute was dit maar bietjie vervelig, maar ek het die roete so gedoen dat ek nie 'n kortpad op die einde kon vat nie! Die weer is nogal lekker, hoewel die steek in my ore tog kop uitgesteek het hier op die einde, maar dis darem al klaar weer iets van die verlede, dus is als okay.

Is maar 'n proses om so aan die gang te kom en sal seker 'n rukkie vat voor dit roetine is - en dalk word dit lekker ook :-)

Tuesday, June 30, 2009

die ander winkelsentrum

Ja, vandag het ek in die ander rigting gestap - na die ander winkelsentrum toe. Gister was ek nie suksesvol in my aankope nie, maar het darem vandag reggekom. Die stappie was so bietjie langer - so 15 minute daarheen, 5 minute se aankoop, en 15 minute terug. Die weer is nie heeltemal so lekker soos gister nie, met die dat ek met steek in die oor teruggekom het by die kantoor - dit het darem intussen verdwyn. Moet dalk 'n top met 'n kappie oorweeg as ek wil gaan stap, ek sukkel maar altyd met die koue en my ore :-)
Ek wil nie te vroeg begin praat nie, maar dit lyk my ek is dalk weer aan die gang met my stappies.

Monday, June 29, 2009

wow... 'n week later

Ek kan nie glo dis amper 'n week laas wat ek ge-blog het nie. Dit beteken bv ook dat ek so lank laas gestap het :-))

Wel, ek het vandag weer gestap - nou wel nie tyd gevat of so iets nie, maar het in my middagete na 'n nabygeleë winkelsentrum gestap om ietsie te gaan koop - behoort darem seker so 1 en half km te wees. Wat dit beteken is..... dis vandag die eerste keer in amper 'n week nie te slegte weer nie. Ons hoop dus maar dit hou so bietjie.

My sussie-hulle kamp in 'n tent uit - by die see..... dis eintlik hoekom ek hoop vir goeie weer :-) Maar as dit beteken dat ek weer kan begin stap, dan is dit ook seker goed.... sal maar weer onder begin.

Tuesday, June 23, 2009

Gelukkig is daar nog tyd vir verbetering :-)

Ai, met die weer wat nie saamspeel nie, is my hele "oefenprogram" daarmee heen. Nie dat dit nou al vreeslik op dreef was nie, maar ten minste het ek aan die stap gekom. Nou sal ek beslis maar eers wag tot die koue fronte gewyk het en dan weer die pad aanpak. Sekere goed moet mens nie in die winter begin doen nie - bv nou die oefenery... as ek opstaan in die oggend is dit nog donker, dus is dit buite die kwessie om dan te gaan stap. In die aand is dit al weer besig om donker te word.... help dus ook nie. En middagetes - wel ja, as die weer saamspeel is dit in die winter die beste tyd. Maar ook net terwyl ek stap - ek dink draf laat mens beslis - of is veronderstel - meer sweet, en dan gaan dit nie hier by die werk pas nie :-)) Dit is nou natuurlik te sê as ek ooit by draf uitkom.

Ja, mens mag maar droom.... dis gelukkig nie 'n lewensnoodsaaklikheid nie, die drawwery nou natuurlik.

Friday, June 19, 2009

dissipline, dissipline

Ai, dit gaan maar moeilik gaan :-(
Het vandag net 20 minute gestap - is toe verveeld met die gestappery. Sal iets anders moet kry om my te motiveer sodat ek nie verveeld word voor ek moeg is of my tyd gestap het nie. Dalk is die roete net te maklik om kort te knip :-))

maar ons hou aan..... en sal uithou....

Wednesday, June 17, 2009

breek deur 'n half uur

Vandag is 'n lieflike dag - wat veroorsaak dat ek nou lekker (?) sweet. Het sopas vir 35 minute gaan stap, maar die kleredrag was duidelik nie geskik nie - sal dus daaraan moet werk. Het 'n lekker wye draai gestap, sommer die natuur en (vars) lug ook geniet. Voel nog baie gemaklik en ek dink ek sal dit darem kan volhou. Sal so teen volgende week begin om bietjie vinniger te stap - ek dink ek is tans nog so op 10min/km. Sal nie deug vir fiksword nie. Maar dan sal ek daaraan moet begin dink om die hiking boots vir tekkies te verruil :-(

Friday, June 12, 2009

Blou Vrydag....

Vandag voel soos blou Vrydag..... gelukkig is dit nie Maandag nie, dan het die week nog voorgelê - nou is daar darem 'n naweek om te herstel. Het seker vandag my stappie nodig... sal die stres verlig van die werk wat soms so frustrerend kan wees. Sal net die frokkie en "longjohn" moet uittrek - ja, dit was koud vanoggend, maar dit sal nie deug met 'n halfuur se stap nie, veral nie noudat die sonnetjie darem skyn (by tye) en dit so bietjie warmer is nie.

Hier gaan ek dus.....

Thursday, June 11, 2009

en ons wag vir beter dae

Beter dae - of raak ek nou al klaar lui? Dis nog steeds koud en toegetrek buite - beslis nie die tipe weer wat my buite toe dring nie. Wonder hoe kom die ouens in plekke soos London fiks - ek stel my voor dat dit ongeveer 80% van die tyd daar so lyk soos vandag by ons. Ek moes dalk ook nie winter as begintyd gebruik het nie - maar die somer kan weer te warm wees... nee wat, sal dus nou begin fiks word sodat ek in die somer al kan draf en dit dan met "oggendstond het goud in die mond" tyd doen - dalk kan my "nie-oggendmens" verander om ook die mooiste tyd van die dag te geniet... as mens mos nou 'n doel het om voor op te staan, dan is dit makliker - hoop ek.

Gisteraand toe darem die stapmasjien bestyg - nie vir te lank nie, want ek is seker dis meer draf as stap wat mens daar doen - gelukkig help dit ook om die koue uit mens lyf te kry. Sal dit dus vanaand weer doen - net bietjie langer.

Wednesday, June 10, 2009

alweer ysig

Ai, teen hierdie trant sal ek nooit fiks word nie - so lekker as wat die weer gister was, so sleg is dit vandag. So fyn misreëntjie wat val en ysige koue buite. Beslis nie die weer waarin ek my oor middagete gaan begewe om te gaan stap nie :-))
Gelukkig kry ek heelwat oefening in badkamer toe en terug -- my gewone liter water word vandag goed aangevul deur koppies lekker warm koffie of tee.... so tussen die werk deur. As tik nou mens kon fiksmaak, sou ek in 'n baie beter "toestand" gewees het.

Sal dus maar kyk of ek vanaand lus is vir die "stapmasjien"... dis ten minste in die huis en maak jou na 'n rukkie sommer lekker warm ook - net jammer my ma soek dit nie in die sitkamer voor die TV nie - dan sou ek ook al fikser gewees het :-)) Maar dit help seker nie ek maak verskonings nie.....

...... kom ek gaan maak maar eers weer 'n koppie koffie.

Tuesday, June 9, 2009

Terug na normaal??

Nou ja, het sopas 25 min gaan stap. Vandag is die weer 100% beter as gister en ek kan die dag as 'n "lekker" wintermiddag beskryf. Net koel genoeg dat die stap nie te warm word nie :-)
Het omtrent weer reg rondom die kampus gestap - sal dus 'n langer roete moet kry as ek my tyd langer wil maak. Het vanoggend natuurlik ook weer die 4x600m roete gedoen met die trollie. Ek sal seker later daaraan moet dink om met my tekkies te begin stap in plaas van my hiking boots... laasgenoemde stap net sooooo lekker, maar ek dink nie dis eintlik ge-"veer" nie en ek wil nie volgende week met my shints begin sukkel nie - sal dus die tekkies moet aantrek en uittrap. Lê al amper 2 jaar in my kas en het nog nie veel teer onder hulle gevoel nie.

Het gister gelees dat tyd in die begin van 'n oefenprogram belangriker is as afstand... ook maar goed so, want my spoed is nog nie naby skilpad wat vir hasie wen nie... sal maar eers bietjie aan die tyd werk en dan later so bietjie vinniger - probleem is net dat mens ook net so vinnig kan stap voor jy moet begin draf... ek is nogal stapfiks, sal dus maar eers net die roete langer maak en nie vinniger nie :-))

Monday, June 8, 2009

En dit is te koud.....

Verlede week het goed begin, toe het ek 'n werkswinkel en Vrydag te veel werk, hoewel ek darem 4x600m gestap het en 'n trollie met swaar goed moes stoot - moet sê, dit het my meer uitasem gehad as my gewone stap oefening.
Die naweek en vandag is net TE koud - die wind fluit hier om die hoeke van die gebou en die wolkies lyk na sneeu :-)) Ek sal maar vanaand op die oefenmasjien moet gaan stap - daardie wat jy nerens kom nie, maar nogal moeg word. Ek wonder nou nogal hoe oefen mense so deur die winter, ek is beslis nie 'n ysbeer nie en kry net te koud... hoewel die oefening mens dalk lekker warm kan maak.... dalk later as ek kan draf en nie net stap nie.
Ek gaan dus nou maar vir my 'n koppie koffie maak en my toebies eet....

Wednesday, June 3, 2009

Dag 3

Nou ja, vandag het ek so entjie verder gestap - 23 minute in totaal.
Dis nie so maklik oor 'n middagete nie, want stap ek te vinnig, kry ek te warm en dan is daar nie plek vir stort nie -- kan darem ook nie my arme kollegas daaronder laat ly nie :-) Stap ek net so lekker gemaklike pas, word ek nooit fiks nie. Bloemfontein se lekker wintersdae het dus nie altyd 'n voordeel nie. Sal maar nuut moet beplan oor die een. Of nog 'n hempie bring vir die staptyd.
'n Mens stap ook heelwat verder in 'n kort rukkie as wat jy dink. Het omtrent reg rondom die kampus gestap en dit was net 23 minute...... was ook gelukkig nie moeg nie, dus sal ek dit elke dag so bietjie langer maak. Hulle sê mos in die begin is tyd belangriker as afstand - ook maar goed, want ek weet glad nie hoe ver ek gestap het nie.
More middagete gaan ek 'n werkswinkel bywoon, sal dan maar 'n ander tyd kry om te stap.. of sal dit my "afdag" wees?? Sal more sien.

Tuesday, June 2, 2009

Klein begin

Eintlik het ek gister, 1 Junie, begin. Klein... baie klein. Om presies te wees, 15 minute klein. En nie 15 min draf nie - 15 minute stap. Het vandag, 2 Junie darem weer 15 minute gestap.
Hierdie 15 minute moet groei tot 12 ure - of dan anders, 89 km.... DIE COMRADES
Ja, ek wil oor 3 jaar die Comrades doen - wou eintlik vanjaar, want oor 'n paar maande is ek 40 en ek wou dit voor die "naughty forties" doen, maar dit het toe nou nie gebeur nie. Ek het vanjaar vir die eerste keer die Comrades gaan "ervaar". My Boeta het gehardloop en ons het die ry-en-stop roete met die kar gedoen..... maar ek wil dit ook draf. Probleem is dat ek nie regtig 'n drawwer is nie, eerder 'n stapper/hiker. Die lyf sukkel om oor te gaan van stap na draf... maar ek sal dit nou eers tyd gee.
As daar dalk aanmoediging of raad is.... ek luister graag :-)