Tuesday, June 30, 2009

die ander winkelsentrum

Ja, vandag het ek in die ander rigting gestap - na die ander winkelsentrum toe. Gister was ek nie suksesvol in my aankope nie, maar het darem vandag reggekom. Die stappie was so bietjie langer - so 15 minute daarheen, 5 minute se aankoop, en 15 minute terug. Die weer is nie heeltemal so lekker soos gister nie, met die dat ek met steek in die oor teruggekom het by die kantoor - dit het darem intussen verdwyn. Moet dalk 'n top met 'n kappie oorweeg as ek wil gaan stap, ek sukkel maar altyd met die koue en my ore :-)
Ek wil nie te vroeg begin praat nie, maar dit lyk my ek is dalk weer aan die gang met my stappies.

Monday, June 29, 2009

wow... 'n week later

Ek kan nie glo dis amper 'n week laas wat ek ge-blog het nie. Dit beteken bv ook dat ek so lank laas gestap het :-))

Wel, ek het vandag weer gestap - nou wel nie tyd gevat of so iets nie, maar het in my middagete na 'n nabygeleë winkelsentrum gestap om ietsie te gaan koop - behoort darem seker so 1 en half km te wees. Wat dit beteken is..... dis vandag die eerste keer in amper 'n week nie te slegte weer nie. Ons hoop dus maar dit hou so bietjie.

My sussie-hulle kamp in 'n tent uit - by die see..... dis eintlik hoekom ek hoop vir goeie weer :-) Maar as dit beteken dat ek weer kan begin stap, dan is dit ook seker goed.... sal maar weer onder begin.

Tuesday, June 23, 2009

Gelukkig is daar nog tyd vir verbetering :-)

Ai, met die weer wat nie saamspeel nie, is my hele "oefenprogram" daarmee heen. Nie dat dit nou al vreeslik op dreef was nie, maar ten minste het ek aan die stap gekom. Nou sal ek beslis maar eers wag tot die koue fronte gewyk het en dan weer die pad aanpak. Sekere goed moet mens nie in die winter begin doen nie - bv nou die oefenery... as ek opstaan in die oggend is dit nog donker, dus is dit buite die kwessie om dan te gaan stap. In die aand is dit al weer besig om donker te word.... help dus ook nie. En middagetes - wel ja, as die weer saamspeel is dit in die winter die beste tyd. Maar ook net terwyl ek stap - ek dink draf laat mens beslis - of is veronderstel - meer sweet, en dan gaan dit nie hier by die werk pas nie :-)) Dit is nou natuurlik te sê as ek ooit by draf uitkom.

Ja, mens mag maar droom.... dis gelukkig nie 'n lewensnoodsaaklikheid nie, die drawwery nou natuurlik.

Friday, June 19, 2009

dissipline, dissipline

Ai, dit gaan maar moeilik gaan :-(
Het vandag net 20 minute gestap - is toe verveeld met die gestappery. Sal iets anders moet kry om my te motiveer sodat ek nie verveeld word voor ek moeg is of my tyd gestap het nie. Dalk is die roete net te maklik om kort te knip :-))

maar ons hou aan..... en sal uithou....

Wednesday, June 17, 2009

breek deur 'n half uur

Vandag is 'n lieflike dag - wat veroorsaak dat ek nou lekker (?) sweet. Het sopas vir 35 minute gaan stap, maar die kleredrag was duidelik nie geskik nie - sal dus daaraan moet werk. Het 'n lekker wye draai gestap, sommer die natuur en (vars) lug ook geniet. Voel nog baie gemaklik en ek dink ek sal dit darem kan volhou. Sal so teen volgende week begin om bietjie vinniger te stap - ek dink ek is tans nog so op 10min/km. Sal nie deug vir fiksword nie. Maar dan sal ek daaraan moet begin dink om die hiking boots vir tekkies te verruil :-(

Friday, June 12, 2009

Blou Vrydag....

Vandag voel soos blou Vrydag..... gelukkig is dit nie Maandag nie, dan het die week nog voorgelê - nou is daar darem 'n naweek om te herstel. Het seker vandag my stappie nodig... sal die stres verlig van die werk wat soms so frustrerend kan wees. Sal net die frokkie en "longjohn" moet uittrek - ja, dit was koud vanoggend, maar dit sal nie deug met 'n halfuur se stap nie, veral nie noudat die sonnetjie darem skyn (by tye) en dit so bietjie warmer is nie.

Hier gaan ek dus.....

Thursday, June 11, 2009

en ons wag vir beter dae

Beter dae - of raak ek nou al klaar lui? Dis nog steeds koud en toegetrek buite - beslis nie die tipe weer wat my buite toe dring nie. Wonder hoe kom die ouens in plekke soos London fiks - ek stel my voor dat dit ongeveer 80% van die tyd daar so lyk soos vandag by ons. Ek moes dalk ook nie winter as begintyd gebruik het nie - maar die somer kan weer te warm wees... nee wat, sal dus nou begin fiks word sodat ek in die somer al kan draf en dit dan met "oggendstond het goud in die mond" tyd doen - dalk kan my "nie-oggendmens" verander om ook die mooiste tyd van die dag te geniet... as mens mos nou 'n doel het om voor op te staan, dan is dit makliker - hoop ek.

Gisteraand toe darem die stapmasjien bestyg - nie vir te lank nie, want ek is seker dis meer draf as stap wat mens daar doen - gelukkig help dit ook om die koue uit mens lyf te kry. Sal dit dus vanaand weer doen - net bietjie langer.